Berg Kenia

deur Jan-Diedeleff Gertenbach

2022-07-01

Berg Kenia – Toe en Nou: Wat gebeur met ’n berg in 20 jaar?

In 2003 is ek en vriend Martin Slabbert op soek na ‘n ikoniese stap avontuur. Ons besluit om tot by die ewenaar te ry en Berg Kenia te klim. Die keuse was maklik – anders as Kilimanjaro, kon mens nog Berg Kenia sonder gids klim, daar was relatief minder besoekers en die natuurskoon is meer ongerep.   Twintig jaar later sê Hannes Reinecke, stapvriend en leraar by NG Kerk Secunda Oos,  hy wil Berg Kenia gaan klim voor hy sestig is. Ek wou dit nog altyd weer doen, en dis veral lekker dat my seun Niël, wat pas klaar geswot het, kan saamgaan. Hy is boonop verloof – so sy kanse raak min… 2003: Reg vir stap (Harold, Jan-Diedeleff en Martin) 2003: Reg vir stap (Harold, Jan-Diedeleff en Martin)

Meer oor die berg

Berg Kenia (5 199m) is die tweede hoogste piek in Afrika en een van die grootste losstaande berge op aarde.  Die berg is ‘n gestorwe stratovulkaan (koniese vulkaan wat opgebou is uit verskeie lae of strata), wat omtrent 3 miljoen jaar gelede gevorm is. Lawa vloeie het vanuit ‘n sentrale kanaal uitgebars. Die ikoniese groep sentrale pieke is gevorm uit die vulkaniese prop wat die kanaal verstop het en die vulkaniese aktiwiteit gestop het. Die berg is in latere ystydperke erg verweer deur gletsers, en die oorblyfsels van die gletsers is rondom die sentrale pieke. Die mees merkbare fisiese verandering oor die afgelope twintig jaar was juis oor hoe die gletsers gekrimp het – later meer hieroor. 

Berg Kenia het duidelike konsentriese plantegroei sones wat deur hoogte bepaal word. Die laer hellings, onder 2500m, is bedek met digte bergwoud, gevolg deur bamboeswoud tot by omtrent 3000m waar daar klein troppe olifante en buffels voorkom. Van 3000m tot by 3500m is heideveld gevolg deur moerasserige vleiveld tot by omtrent 4500m. In laasgenoemde kom ongewone plante soos reuse lobelias en reuse kruiskruid (“groundsel”) voor.  2023: Berg Kenia

Tyd, geld en die petrolprys

In Maart 2003 het ek en Martin in 7 dae tot by Nairobi gery met sy 80’s Toyota Land Cruiser 4 liter reguit-ses petrol. Ons roete is van Pretoria oor Mutare (Zimbabwe), Monkey Bay (Malawimeer), Mbeya, Dar es Salaam en Moshi (Tanzanië).  In Nairobi laai ons vir Harold Weepener op en skiet deur na Chogoria, drie ure noord van Nairobi en aan die noord-ooste kant van Berg Kenia. Harold het destyds by die VN in Nairobi gewerk, en is “ons logistieke man op die grond”, wat ook besluit om saam te stap.  Na die stap reis Martin en sy vrou Hanlie met die Cruiser via fantastiese plekke soos Mgorongoro krater, Kasanga en Suid Luangwa Nasionale Park terug gery na Suid- Afrika. Vuil petrol in Kenia het wel bietjie drama veroorsaak, maar met die hulp van die AA het die gesoute reisigers hulle nie laat onderkry nie. 

Terug by 2023. Petrol is duur en tyd is min – so dis die vervelige vlieg opsie. Ek, Hannes en Niël vlieg op Dinsdag 28 Desember na Nairobi. Ons het besluit om dieselfde roete as wat ek in 2003 gestap het te volg, naamlik op met die Sirimon roete en af met die Chogoria roete.  Daar is verskeie hekke rondom Berg Kenia, en mens kan by een hek begin stap en weer terugkeer of met ‘n ander roete afkom. Die Sirimon roete is redelik direk, met relatief konstante helling en mooi uitsigte. Die langer en daarom stiller Chogoria roete word beskou as meer aanskoulik, interessant en met die meeste bio-diversiteit. Die  langer afstand in die drie laer plantegroei sones gee mens beter kans gee om olifante en ander diere te sien.  2003: Martin maak die Cruiser vol iewers in Mosambiek 2003: Martin maak die Cruiser vol iewers in Mosambiek

Roete tot by Sirimonhek

In 2003 gebruik ons die Chogoria Transit Motel as basis. Die bestuur help met die reël van ons vervoer vir die volgende dag, want ons wil die Cruiser by Chogoria hek los, wat so 30 km en 1000 m (berg op) is, en dan taxis (of Matatu’s soos hul daar bekend staan), gebruik vir die sowat 100km om die noorde van die berg, tot by Sirimon hek. Die Cruiser het maar gesukkel met die modderpad op tot by Chogoria hek en ons moes die wen-as en dik bamboesbosse inspan om op te maak vir die gebrek aan ewenaarslotte. By Chogoria Hek koop ons permitte vir USD10 per persoon per dag – kontant vir papier.  Ons ry met onderskeidelik Series III Land Rover, Toyota Hi Ace diesel (wat breek) en 60’s Peugeot 404 stasiewa tot by Sirimon hek afdraai. Ons moet die laaste sowat 8 kilometer na die hek stap waar ons in die bandas (chalets) oornag.

Ons is meer konvensioneel in 2023, en vroegoggend laai George, ons aangewese Uber bestuurder, ons by Mad Vervet Backbackers in Nairobi op met sy gebleikte pampoengroen Corolla sonder ventilasie. Wanneer ons die hoogland plato bereik, sien ons vir die eerste keer die pieke van Berg Kenia, al aan ons regterkant, soos ons om die weste kant van die nasionale park ry. Vier ure later laai hy ons by Sirimon hek af. 

Dag 1: Sirimon hek tot by Old Moses (8 km: 2600m – 3300m)

Dis 2003 en ons eerste dag se stap is so 8km teen ‘n konstante helling op ‘n grondpad wat later ‘n tweespoor word. In die bergwoud sien ons sebras maar geen buffels in die kort stukkie bamboeswoud nie. Ons kamp by Old Moses is ‘n plat stukkie gras met ‘n nuuskierige Bergwagter wat ons vermaak.  Toe ons Vrydag oggend 29 Desember 2023 by die Sirimon hek afdraai kom, is dinge reeds heelwat anders. Ons ry met ‘n goeie grondpad tot by die hek, waar daar reeds ‘n hele tou motors is. Die pad tot by Old Moses is nou sement en teer, en toeriste kan met gewone motors daarheen ry vir ‘n daguitstappie. Ons kon net 2023 fooie aanlyn betaal (nou USD50 per persoon per dag), en om ons permitte af te handel met veranderende fooie tussen die twee kalender jare kos ons kosbare tyd oor ‘n stadige internet verbinding – die prys van vooruitgang. Die kompleksiteit is dat ons van 2024 as Afrika bewoners bietjie afslag kry. Die aanlyn besprekingstelsel werk egter uitstekend en die amptenare is behulpsaam, vriendelik en beleefd. Laasgenoemde was oral in Kenia vir ons nogal kenmerkend. 

Anders as wat ons (verouderde) bronne aandui, is ‘n gids ook nou verpligtend, en geen mate van protes help nie. Die tyd wat ons sukkel met die permitte, is genoeg vir die amptenare om vir ons ‘n gids in nabye Nanyuki op te spoor en skaars ‘n uur later is Kim daar, gereed om te stap. Hy is ‘n gemoedelike en vriendelike 27 jarige jong man en ons is vinnig vriende. Alles in ag genome, was dit lekker om iemand te hê wat die omgewing so goed ken. Hy het altemit na sy 250ste klim, so 2 jaar gelede, ophou tel. 

Die geplaveide 8km is styler as wat ek onthou, en ek en Niël vaar sommer gou in ons swaarste kos in om ons sakke ligter te kry. Ons sien elande, reuse bobbejane, duikers, muishonde, lysters, jakkalsvoëls en bosloeries, maar net die mis van olifante en buffels. Ongelukkig is daar ook heelwat motors wat opdreun of met gloeiende remme van bo af kom. 

Die kampplek het nou ‘n handige staal tafel met afdak. Die groot verskil is egter die toeloop van “toeriste” stappers. Anders as ons dra hulle min maar hulle het portiere wat alles van reuse tente, gasbottels, tafels, stoele en luukse kos aandra. Dis duidelik dat Berg Kenia in twintig jaar baie meer populêr en kommersieel geword het. 

Ons eerste nag op relatief hoë hoogte is heel rustig behalwe vir ‘n irriterende naguil wat vroeg oggend herhaaldelik sy alarm stem reg voor ons tent kom toets. So asof ons op sy plek is – of is ons nie?

Dag 2 en 3: Old Moses na Shiptons (16km: 3300m – 4200m)

Dag 3 is beide kere ‘n aklimatiseringsdag – so ek kombineer die beskrywing. 

In 2003 is ons gids ons getroue kaart van Wielochski en Savage saam met Martin se klein Garmin Etrex. Na so 10 km van geleidelike styl opdraandes kamp ons in die Mackinder vallei langs ‘n borrelende bergstroom. Dit is die eerste aand wat dit vir die eerste keer werklik koud is, en die volgende oggend is my lepel vasge-ys in ‘n kospotjie vol water. 

Die volgende dag is ‘n kort en minder styl stap al met die kabbelende Liki Suid stroom langs met sy klein ys watervalletjies, en ons kon al die effek van dun lug voel. By Shiptons is daar nie ‘n siel nie en ons slaap sommer in die hut. Ook maar goed, want daardie nag is daar ‘n sneeustorm. Die effens afgeleefde hut voel egter kouer as ‘n tent vol wasem (en ander warm lug…). 

In 2023 wil Kim deurdruk tot by Shiptons kamp, waar daar ‘n hut is, want anders as ons het hy nie ‘n tent nie. Sy verweer is dat Mackinder vallei altyd koud en winderig is. Sodra ons die vallei ingaan begin dit inderdaad reën, so ons volg sy plan. Op die roete kry ons verskeie ander groepe met hulle portiers, onder andere Nederlanders, Russe en Amerikaners. Kim moedig ons aan om te probeer om voor hulle by Shipton’s te wees, sodat ons die beter kampplek kan beset. Ten spyte van die gradiënt en swaar sakke stap ons vinniger as die “toeriste” maar dit eis sy tol want ons begin die effek van die dun lug ervaar. En net soos Kim gesê het, klaar die reën op en ons word begroet met fantastiese uitsigte op die pieke. Vir die eerste keer kan ons Punt Lenana – ons teiken – sien. Die dag het ons elande, dassies, veldmuise, rooivlerkspreeus, bergwagters en ‘n uil (moontlik Mackinder se ooruil) gesien. 

Net soos in 2003, is Dag 3 ook ons aklimatriseringsdag.  Dis bitter koud as ons wakker word, en oral is ys vlokkies – selfs die grond staan op yskristaltorinkies. Vroeg oggend word ons wakker van ‘n helikopter. Een van die Amerikaners met hoogtesiekte word ge”medivac”. Berg Kenia is blykbaar een van die plekke met die hoogste voorkoms van hoogtesiekte, omdat mens so hoog begin, so vinnig kan klim en so baie onervare stappers gehelp word deur toeragentskappe. 

Laat oggend doen ons ‘n baie rustige klim sonder ons rugsakke tot by 4600m waar ons afkyk op die Hausberg bergmeer (“tarn”). Met die opklim  oefen ons “pole pole” (“stadig stadig” in Swahili), maar af is oopketel. Tot ons verbasing sien ons hiëna mis in ‘n rotsskuiling. Hierdie was maar ‘n klein stukkie van die piek sirkel roete (“summit circular route”) wat ek en Martin in 2003 oorweeg het. 

Dag 4 – Simba Col na Top Hut (4,5km: 4200m na 4800m)

Bo 4200m is die lug dun (omtrent 40% minder suurstof as by seevlak) en ons moet met ons steeds swaar rugsakke oor Simba pas (“col”).  In 2003 is Simba Col die eerste plek waar ons werklik moet “Pole Pole”.   Bo 4300m is daar nou nie meer plante nie, net klip, gruis en die sneeu van die vorige aand. Omdat dit die einde van die droë seisoen is, is die gruis los, so dis meer ‘n geval van een tree vorentoe, halwe tree terug. By die eerste bergmeer (Simba tarn) sien ek sterretjies, maar ‘n foto bevestig later dat dit werklike lugspieëlings was. 

Die weer is egter goed en ons skil geleidelik lae warm klere af soos ons op en om die pieke gaan verby verskeie ander bergmere soos die kenmerkende Square Tarn. As ons by Top Hut, ook bekend as Austrian Hut op 4800m, kom sien ons vir die eerste maal die Lewis gletser, ook ons bron van vars water. Daardie aand is dit bitter koud en ons maak sommer kos in die tent. Ongelukkig begin Harold sleg voel van die hoogte.

Dis 1 Januarie 2024 maar dis vir ons net nog ‘n dag in ongelooflike natuurskoon. Hoe reageer ‘n mens se liggaam as jy 20 jaar later iets aanpak wat in jonger en fikser dae reeds ‘n uitdaging was? Gelukkig is ons taaier, geduldiger en gedetermineerd. Ons eerste rus is by Lower Simba Tarn waar ons vermaak word deur ‘n trop endemiese Berg Kenia dassies met langer hare ook bekend as Mount Kenya Hyrax  of Procavia johnstoni mackinderi Thomas. Nou die diertjie is eintlik ook ‘n Toyota, want in Kenia ruil die mense geredelik L en R om. So die bakkie word geroep Hirux en die dassie is ‘n Hylax… 

Simba Col is net so styl soos ek onthou, maar omdat ons nader aan die einde van die vorige nat seisoen is, is die gruis meer stabiel en gly ons minder. Daar is baie portiere wat baie swaar dra aan ‘n groep rotsklimmers se kamp toerusting in David Livingstone styl. Hulle begroet ons met ‘n vriendelike “Jambo, Jambo! Happy New Year!”. Met die stadig loop kan ons diep gesels, en voor ons ons weer kon kry is ons by die kruin op 4600m. Dis dieselfde hoogte wat ons die vorige dag op geakklimatiseer het. 

Wanneer ons uiteindelik by Top Hut kom, is ek verstom om te sien hoe die gletser gekrimp het – nou eerder net ‘n ysveld. Ek en Niel loop amper 10 minute van waar die gletser in 2003 was tot by sy huidige onderpunt, waar ons water skep.   2023: Niel en Lewis Gletser 2023: Niel en Lewis Gletser

Dag 5 – Op na Punt Lenana (4995m) en Hall tarns (7 km)

Dis weer Maart 2003 en die nag is ysig koud. As jy jou neus buite jou minus 22 grade gegradeerde slaapsak hou, vries hy af, so ons slaap met die musse en kop kappies styf toe. Harold het min geslaap en voel steeds sleg so met sonsopkoms klouter net ek en Martin die laaste 200m op tot bo-op Punt Lenana. Die 360 grade uitsigte oor waar ons was, heen gaan en nooit gaan kom nie, is fantasties. Ons kry sowaar reg om ‘n SMS deur te kry na geliefdes in SA (ja daai tyd het mens dit nog gebruik). 

In 2023 volg ons dieselfde plan, maar met die gerief en beskutting van Top Hut as basis. Ons staan net voor sonop op en die piek is reeds vol kopliggies wat soos vuurwurms op en af beweeg. Die klouter laat my dink aan die eerste dag van die Visrivierstap, maar in trurat. Anders as in 2003 is die gletser – of wat van hom oor is, ver onder ons. Daar is nou ‘n kabel en ‘n kort via ferrata (ysterpad) vir ekstra sekuriteit (hoogste ter wêreld). Die weer bo is weer perfek en selfs Kim neem foto’s van die uitsigte. Op die piek is daar nou ‘n paar nuwe artefakte, onder andere ‘n Good News vertaling Bybel wat in ‘n glas kas ooplê by Jesaja 44 (“I am the first, the last, the only God”).  2023: Niel, JD, Hannes en Kim op Punt Lenana 2023: Niel, JD, Hannes en Kim op Punt Lenana

Na lekker ontbyt by Top Hut is dit weer rugsakke op, wat nou dat ons begin afdraand loop, uiteindelik ligter raak. 

Hall Tarns is seker een van die mooiste plekke op Berg Kenia. Dit is ‘n groepering van verskeie ysige meertjies in ‘n heldergroen landskap bo-op ‘n krans wat afkyk op Lake Michaelson. In 2003 was dit absoluut ongerep. Ongelukkig is daar nou baie rommel – die produk van te veel toeriste en portiers. In 2003 was ons enigste geselskap mekaar en ‘n nuuskierige veldmuis. Veldmuis is steeds daar, maar nou ook Switsers, Brasiliane en twee Franse Pa’s met hul dogters, wat graag deel oor hul verskeie ekspedisies van die Rwenzori’s, Andes tot Himalayas. Natuurlik kom die onderwerp van rugby en 1 punt ook op. Ons sien weer ‘n uil wat vir veldmuis kom soek.  2023: Gorges Valley, Hall tarns en Lake Michaelson vanaf Punt Lenana 2023: Gorges Valley, Hall tarns en Lake Michaelson vanaf Punt Lenana

Dag 6 – Afwaarts na Chogoria Hek (4300M na 3000m – 14km)

Die laaste dag gaan eers deur ‘n krater en dan verby fantastiese uitsigte af op Lake Michaelson, 400m na benede. Die uitlopers oorkant lyk kompleet soos die Drakensberge. 2023: Niel kyk af op Lake Michaelson met pieke in die agtergrond 2023: Niel kyk af op Lake Michaelson met pieke in die agtergrond

Net soos in 2003 is die fynbos sone vol veldblomme, soos suikerbosse en ericas en ons sien ‘n mooi edelvalk van naby en weer hiëna mis. In 2023 sien ons ook die tekens van toenemende toerisme, want die tweespoor na die voetpadkop (“trailhead”) is nou ‘n breë grondpad, met afraai na Lake Ellis, wat deesdae ook ‘n populêre visvang- en kampbestemming is. Kim vertel ons van die bosvarke, hiënas en luiperds wat hy al teëgekom het in die geweste. 

In 2003 was die afry van Chogoria hek na Chogoria darem makliker as die opry, buiten vir die steekvlieë wat ons in die bosgedeelte amper uit die Cruiser jaag. 

2023 word 2024 as ons weer in die beskawing is. Kim het vir ons ‘n taxi, ‘n netjiese klein Toyota Sienta gereël. Die droër weer maak dit moontlik vir die klein karretjie om tot by Chogoria hek te kom. Die styl dele in die bamboesbos is ook nou geplavei. Dis moeilik om te dink dat die Cruiser hier vasgesit het. Die bamboesbos is baie groener en ruwer as aan die noorde en ons sien Sykes ape (wat ons ken as Samango ape) met hul kenmerkende wit kele. 

Ons vind weer die Chogoria Transit Motel, wat nog amper dieselfde lyk as in 2003. Net soos in 2003 gaan eet ons tradisionele kos soos nyama choma (die onoffisiële nasionale dis en letterlik gebraaide vleis – verkieslik bok) , mokimo (aartappel en mielie dis) en ugali (mieliepap)  op die hotel se dak. In 2003 was die dak eintlik gereserveer vir plaaslike hoofmanne en hulle gaste. Vandag is die dit veel minder eksklusief, maar ons gesels lekker met die eienaar en ‘n plaaslike sakeman wat graag na Suid-Afrika wil ry. 

Dis Januarie 2024, en ons het ‘n spaar dag in Chogoria voor die terugtog. Ons haal elkeen ‘n boda-boda (motorfiets taxi) vir die ekwivalent van R10 om die dorpie en sy markte te gaan verken. Die volgende more laai George ons douvoordag op. Hy het sowaar die vorige aand al deurgery en het in sy kar in die veld voor die hotel geslaap. Die rit terug na Nairobi neem ons weer deur verskeie klimaat en landbou streke vir verbouing van tee, vrugte, rys en pynappels nader aan Nairobi. 

Hannes vlieg met Rwanda Airways wat oorstop in Kigali, en kom eers vroegoggend  Sondag 7 Januarie in Secunda aan – net betyds om sy preek wat hy op die berg uitgewerk het te lewer. Ek en Niel vlieg direk met Airlink. Dis heerlik om na 10 dae weer met ons geliefdes herenig te wees. (Niel moes wel nog een dag uithou om by sy verloofde te kom…)

Vir ‘n volgende besoek sal ek nie weer 20 jaar wil (of kan) laat verbygaan nie.